top of page

Feestyd Familie Vete


Hoekom kom familie nie reg nie

Dit is vandag 'n maand terug kersfees gewees. 'n Tyd vir lekker eet en lekker kuier saam met jou familie. Lag en speel en jubel en so. Tog is dit vir soveel mense glad nie die realiteit nie. Dis eerder 'n tyd van die kners van tande en toets van geduld. Of 'n tyd van groot verligting en opnuut ontdekte vryheid as ons om een of ander rede die groot saamtrek kan mis. Tog te gereeld is dit 'n tyd van groot familie fights. Of almal nou saam is of nie. Lang Whatsapps en lelike voice notes. SUG!... en epos! Sulke laaaaanges.

Hoekom? Wat maak dat ons so kan vassit met die mense wat ons eintlik so lank ken? Wat is dit van familie wat die slegste dele in ons soos 'n dooie vis na die oppervlak laat dryf? Kla hulle so oor ons ook? Kan seker nie wees nie?! Hoekom kan hulle almal nie net regkom en soos ons wees nie? DAN sal ons nou lekker kuier! Dit klink my dit is die eintlike uitdaging: om te laat gaan van sekere aannames.

As jy een van die gelukkige mense is wat nie sulke tipe spanning ken nie. Stuur vir ons asseblief die resep van jou Kersfees-punch! Daar blyk drie bestandele in die res van ons se mengsel te wees wat hierdie feestyd-familie-vete-verskynsels verduidelik. 1. Ons verwag die reg tot inspraak 2. Ons verwag 'n mate van invloed 3. Ons verwag 'n drastiese verandering

Inspraak: Inspraak is iets wat met tyd en respek verdien word. Hoe meer jy in 'n verhouding belê hoe groter word jou reg tot inspraak. As jy nie jou verhouding met jou familie die tyd en respek gee wat jou die reg tot inspraak verleen nie, moenie dan verbaas wees oor die teenstand wat jy kry nie. As jy wel die energie gee wat so 'n tipe verhouding vra wees versigtig vir die aanname van invloed. Invloed: Net omdat jy die reg tot inspraak het beteken dit nie dat jou inspraak sonder twyfel 'n impak gaan maak nie. As jy invloed as vanselfsprekend gaan aanvaar gaan jy makliker seergemaak en teleurgesteld voel as dit nie die geval is nie. Wat gaan maak dat jy makliker weerbarstig en/of oproerig gaan wees wanneer die laaste strooi die kameel se rug breek. Weerstand tot jou invloed is nie iets om persoonlike te vat nie.

Verandering: Ons het ook gereeld die idee dat dit om een of ander rede híérdie keer anders sal wees. Dat die mense wat jou frustreer het met hulle belaglike en simpel maniere en gewoontes intussen tot die besef gekom het van hoe verkeerd dit eintlik is en nou gaan anders optree. Die realitiet is dat persoonlike verandering geneig is om: soms te volg op 'n drastiese en langtermyn verandering in omgewing of (en dit is eerder die geval) om te volg op 'n bewuste en volgehoue keuse om anders te dink, te voel en gevolglik te doen. Wat laat ons tog dink dat familie dit gaan doen? Soos ons, blaas hulle seker ook net 'n sug van verligting dat hulle nie meer in ons gevrete hoef vas te kyk nie. Al klaar besig om weer stamina op te bou vir die volgende groot saamtrek.

 

Francois Esterhuizen: Huweliksberading en terapie vir verhoudings - Stellenbosch. Huweliksvoorbereiding, huweliksverreiking, kursussue en werkswinkels vir verhoudings.

Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page