top of page

Pyn se plek


Pyn in hierdie lewe is noodwendig. Nie een van ons kan dit vryspring nie. Dit is ons bekendste reisgenoot deur die lewe. Wie in hierdie lewe het nog nie verwerping, eensaamheid of verlatenheid beleef nie? Wie ken nie teleurstelling of vernedering nie? Ons weet dat pyn deel is van die lewe. Dit keer ons natuurlik nie om dit te probeer vryspring nie en tog te gereeld veroorsaak ons pogings net meer pyn vir onsself en vir ander. Pyn is ook noodsaaklik. Pyn is ons gids. Wanneer dit kom by negatiewe pyn (bloeipyn) is dit pyn wat vir ons laat weet dat iets fout is. Dat ons moet stop en aandag gee daaraan. Dit is die pyn wat ons voel wanneer ons iemand naby aan ons aan die dood afstaan of as ‘n verhouding eindig. Pyn laat ons weet dat ons tyd moet vat om deur dit te werk. Dat ons aandag moet gee aan ons hartseer. Wanneer dit kom by positiewe pyn (groeipyn), soos die pyn waardeur ons moet gaan om iets merkwaardigs te behaal – is pyn se boodskap: hou uit, hou aan, hou moed. Dit is die pyn waardeur ons moet druk om gesonder mense te wees. Net soos die fisiese pyn van die atleet se oefenprogram, so is die ongemaklike gesprek wat ‘n getroude paartjjie oor die dissipline van hul kinders moet hê. As hulle die ongemak en pyn van hierdie gesprek kies ontwikkel hulle die vermoë om in die uitdagende oomblikke beter keuses te maak. As die atleet deur die pyn van sy oefenprogram werk dan is hy voorbereid vir die resies. Sonder die voorbereiding wag daar mislukking en meer negatiewe pyn (bloeipyn). Ten spyte van hierdie waarheid is ons steeds geneig om pyn slegs as negatief te sien. Ons sien dit as onwelkom. Ons sien dit net as bloeipyn. Ons sien nie wat dit gee nie, net wat dit ons ontneem. Elke groot geloof in die wêreld het ‘n vorm van hemel waar pyn afwesig is. Maar sonder die begeleiding van bloeipyn sal ons te maklik aanhou wanneer ons moet stop. Ons sal infeksie in wonde kry waarvan ons nie kan weet as dit nie vir bloeipyn was nie. Sonder dit sal ons nie in staat wees om enige diepte in ons verhoudings te kweek nie. Pyn kan ons nader aan mekaar bring as ons dit toelaat. Sonder pyn sal ons ook nie kan onderskei tussen dit wat belangrik is en dit wat dringend is nie. Pyn is wysheid in babaskoene. En dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid om hierdie baba te voed en te versorg. Groeipyn is ‘n afgeskeepde dissipline en ‘n belegging wat ons te selde maak. As ons doelbewuste, gesonde keuses maak sal ons nie bloeipyn kan vermy nie, maar as ons nie proaktief leef nie sal ons groeipyn vermy - en saam met dit sal ons ook groei vermy. Die keuses wat ons groeipyn laat beleef ontwikkel ons menswees en strem ons luiheid. Elke faset van pyn is belangrik om te verstaan en te verken, want dit is die manier wat ons onsself en die om ons kan bemagtig om die waarde van pyn te sien en potensiaal in onsself te vervul en te verwerklik.

Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page