top of page

Die verhoudingslandmyn

"Wat is fout?"

As jy al dié vraag gevra het dan ken jy ook seker díé antwoord:

Hoekom lok so 'n eenvoudige en onskuldige vraag soms so 'n groot reaksie uit? Ek het al soveel keer gehoor hoe mense (ek ook) hieroor kla met iets soos: "Ek kan sien iets is fout, maar as ek vra dan hoor ek net - 'Niks nie!'." Hier is die geheim: Om te vra: "Wat is fout?" is 'n fout.

Om te verduidelik wat ek bedoel kom ons kyk gou na wat die woord fout beteken. 'n Onaantreklike of onbevredigende eienskap, veral in werk wat gedoen word of in 'n persoon se karakter. "My ergste fout is ongeduld" 'n Verkeerde of gevaarlike aksie of gewoonte. "Dit is die groot fout van ons taakspan - dat elkeen net op homself fokus" Sinonieme: defek, onvolmaaktheid, gebrek, tekortkoming, swakheid, swak punt "Hy het sy foute" 'n Oortreding van bepaalde reëls in 'n sport, bv. tennis. "Met sy diens het hy 'n voetfout begaan." Om iets verkeerd te doen. "Om nie aandag in die klas te gee nie was 'n groot fout." Ek besef ook dat wanneer jy vir iemand vra: 'Wat is fout?", dit beteken: "Wat pla jou?". Dat jy meeste van die tyd regtig net besorgd is. Die wrede waarheid is: Nie een van hierdie vrae is die regte vraag om vir jou partner te vra nie.

Een van die redes is dat daar 'n aanname in die vraag opgesluit is. Daar is iets fout, ek wil weet wat dit is en dan moet ons natuurlik die fout regmaak. Verhoudings is nie so meganies nie. Kyk gou na dié verskil: "Wat is fout?" teenoor "Is daar iets fout?". So 'n klein skuif kan al 'n groot verskil maak. Alhoewel die tweede vraag beter is, is dit steeds 'n lomp vraag, want as daar nie iets fout is nie dan is dit die einde van die gesprek. Daar is heelwat van ons wat te verlig sal wees as dit die einde is. Ware kommunikasie is veeleisend en hierdie toe tipe vrae is dikwels 'n manier om 'n regte gesprek te vermy. Daar kan ook van ons eie projeksies betrokke wees wat maak dat ons iets lees in ons partner se lyftaal (dat iets fout is) wat nie eintlik daar is nie. (Meer oor projeksies op 'n ander dag.) 'n Goeie vraag is natuurlik ook nie 'n waarborg dat kommunikasie goed sal wees nie. Dit bly steeds 'n spanpoging. Omdat elkeen van ons verantwoordelik is vir die kommunikasie van ons eie behoeftes, frustrasies en emosies kan ons nie alleenlik staat maak en wag vir die regte vraag nie. Tog is daar vrae wat help om 'n veilige ruimte tussen ons te skep. Soos ek sê dit vat oefening en is 'n SPANPOGING.

Probeer die volgende. Sien jou aannames as iets wat jy vermoed en toets jou vermoede. Dit kan dan so klink: Vraag: "Dit lyk vir my of jou gedagtes ver weg is. Is dit so?" "Dit lyk vir my of jy ontsteld is. Is dit so?" "Ek wonder of daar iets is waaroor jy wil praat? Jy lyk vir my angstig. Is dit so?" As die antwoord "Nee" is, volg dan op met iets soos: "Is daar iets anders waaroor jy sal wil praat?". As die antwoord "Ja." is volg dan op met iets in die lyn van: "Ek sal graag luister as jy daaroor wil praat." Deur dit te doen maak jy die spasie so veilig as moontlik vir jou partner om te kan praat. Die bal is nou in hulle hande. Daar is nie foute om reg te stel nie, net 'n oop uitnodiging.

Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page