top of page

Ou koeie of binnevet van die boud


Dink hoe dit sal wees as jy elke dag twee e-posse kry. Die een beskryf iets negatiefs oor jou persoonlikheid en die ander weer 'n positiewe eienskap. Wat sal gebeur met jou gemoed en ingesteldheid as jy elke dag net die negatiewe epos lees? Wat as jy dit vyf keer ‘n dag lees? Jy sal natuurlik na 'n tyd redelik pessimisties raak en nie baie gemotiveerd voel om te verbeter nie. Maar wat sal die effek wees as jy die negatiewe epos een keer lees en dan die positiewe een vyf keer of meer? Alhoewel jy bewus sal wees van 'n area waaraan jy moet aandag gee sal jy verseker meer optimisties voel oor jouself en waarskynlik meer motivering hê om te werk aan die areas wat aandag nodig het. PLUS! Jy sal dit wat jy reg doen meer en beter wil doen.

Jy kry nou wel nie e-posse nie, maar jy dink waarskynlik baie gereeld aan jou partner. Is jou gedagtes positief of negatief? Dink jy net aan jou partner wanneer dinge sleg gaan? Ek weet jou partner doen dinge wat jou mal maak en teen jou grein gaan. Dinge wat glad nie vir jou sin maak nie. Sommige dinge is bloot onkunde en ander dinge is vir jou net eenvoudig dom! ;o) Dit maak jou soms so boos dat jy kan voel net duiweluitdrywing gaan dinge nou red. As jou gedagtes oor jou partner meer na die negatiewe neig gaan jy verseker nie goed voel oor jou verhouding nie en jy gaan daardie negatiewe ingesteldheid na die verhoudingspasie toe vat. Maar weet jy wat? Hoe meer jy daarop fokus of daaroor top hoe erger word dit en hoe sterker raak jou emosies daaroor. Tot dit die punt bereik wat jy nie meer vir jou partner die binnevet van die boud (volketimologie - wat 'n vreugde) gee nie. Jy sien eerder die bevestiging van jou negatiewe gedagtes raak en kyk dit wat goed en reg is mis.

Hier is ‘n klein toets om jou te help. Deel ‘n bladsy in drie ewe groot blokke. Skryf drie dinge neer wat jou partner doen wat jou frustreer – een in elke blok. Daag jouself nou uit om vyf (ja vyf!) positiewe eienskappe of gedrag of waarderings in elke blok neer te skryf... Probeer dit. As jy dit moeilik vind om die positiewe dinge te vind is daar te veel klem by jou op dit wat verkeerd is. Jou kop is vol negatiewe gedagtes - jy is te gereeld besig om kos aan te dra vir die ou koeie in die sloot!

Nog meer prakties? Goed, elke keer as jy besef dat jy negatief dink oor jou partner of oor julle verhouding stuur vir jou partner ‘n boodskap (e-pos of sms of Whatsapp) van waardering: “Ek waardeer dat jy vir ons ‘n naweek weg reël. Dankie” of “Ek waardeer dat jy moeite doen om my uit te vra oor my dag.” Of “ Ek waardeer jou eerlikheid.” As jy meer van ‘n opbouende beeld van jou partner kweek deur eerder vyf keer die positiewe e-pos (van jou gedagtes) te lees gaan jy makliker die binnevet van die boud gee wanneer dit regtig saakmaak. Die effek? Jy sal baie meer goeie dinge raaksien en jou partner sal dit waardig wil wees. Jy sal nuwe groei in jou verhouding sien.

 

Francois Esterhuizen: Huweliksberading en terapie vir verhoudings - Stellenbosch. Huweliksvoorbereiding, huweliksverreiking, kursussue en werkswinkels vir verhoudings.

Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page