top of page

Hier is ek...waar is jy?


Daar is soveel dinge wat maak dat ons nie teenwoordig is in ons verhoudings nie. Sommige maniere is maklik om raak te sien en ander is so subtiel dat jy self nie eers weet dat jy nou iewers anders is nie. Hier is 'n paar algemene voorbeelde: Jy is in gedagte - of dit nou werk is wat jou pla of iets is waarna jy uitsien, jou gedagtes kan jou vinnig wegvoer en maak dat jy nie teenwoordig is nie. Jy is bang - soms is jy bang om raakgesien te word of vir intieme konneksie en ander kere het dit te doen met moeilike onderwerpe of die vrees dat dinge net weer dieselfde gaan wees. Jou fokus is op jou vrese en jy is nie daar nie. Jy gee voor - dit gebeur gewoonlik vroeg in verhoudings, maar gebeur ook in pogins om konflik te vermy of bogenoemde vrese te probeer demp. Jy maak of jy anders voel of dink as wat jy werklik doen. Dit wat jy voorhou is nie jy nie, wat beteken jy is nie daar nie - jy is nie teenwoordig nie. Jy probeer beheer - hierdie is 'n skelm (en daarmee bedoel ek onbewuste) manier wat ons nie teenwoordig is nie. Dit gaan dikwels oor pogings om dinge en mense te beheer waaroor ons eintlik geen beheer het nie. Dit ly tot frustrasie of obsessiewe planne-makery wat maak dat jy nie daar is nie. Jy soek sekerheid - jy is net bereid om op te daag en teenwoordig te wees as jy totaal seker is van die ander persoon se reaksie - as dinge voorspelbaar is. Tot dan gebruik jy enige van die bogenoemde of 'n kombinasie om jouself weg te voer na iewers anders. Soms voel jy net seker as jy in beheer is. Niemand van ons is altyd, heeltyd teenwoordig in ons verhoudings nie, maar hierdie lysie kan help om meer bewus te raak van wanneer jy jou verhouding verlaat.

Volgende week kyk ons na maniere om meer teenwoordig te wees in ons belangrikste verhoudings - in goeie en in slegte tye...

Featured Posts
Recent Posts
Archive
Search By Tags
Follow Us
  • Facebook Basic Square
  • Twitter Basic Square
  • Google+ Basic Square
bottom of page